Plathoender

1 groot, plomp skrophoender

Olyfolie

30 ml elk gemaalde koljander, paprika, komyn en swartpeper

10 ml sout

Sous

60 ml vars suurlemoensap

2 knoffelhuisies, fyngerasper

45 ml elk heuning, worcestersous en olyfolie

15 ml appelkooskonfyt

Gebruik ’n skerp skêr en knip die hoender van die borsbeen af tot onder oop. Vou die hoender oop, draai om en druk dit met jou hande plat. Bedruip met olyfolie.

Rooster die speserye en sout in ’n droë pan tot geurig en laat afkoel. Vryf die hoender goed daarmee in. Sit die hoender in ’n plastieksak, druk alle lug uit die sak en verseël. Verkoel vir minstens 2 uur, maar verkieslik oornag.

Meng al die bestanddele vir die sous saam.

Braai die hoender stadig – in ’n toeklaprooster – oor matige kole en draai gereeld om. Sodra die hoender halfgaar is, begin dit met die sous verf ná elke draai van die rooster. Braai verder tot gaar.

As jy twyfel of die hoender gaar is, wikkel aan sy boude. As dit los voel of dit maklik kan afbreek, is die hoender reg.

Druk ’n bietjie vars suurlemoensap oor die plathoender uit en bedruip met ’n bietjie olyfolie. Sit voor met oondgebakte waaierpatats.

Lewer 6 porsies