Deeg

  • 7 x 250 ml witbroodmeel
  • 10 ml sout
  • 10 ml suiker
  • 1 pakkie (10 g) kitsgis
  • 100 g botter
  • Ongeveer 750 ml louwarm water
  • 45 ml olyfolie

Vulsel

  • 1 pak spekvleis, gesnipper
  • 1 groot ui, fyn gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 6 songedroogde tamaties in vinaigrette, gedreineer en fyn gekap
  • 185 ml gerasperde sterk kaas, soos parmesaan of gruyère

Meng die meel, sout, suiker en gis saam. Smelt die botter in die warm water en roer die olyfolie by. Voeg die vloeistof bietjie vir bietjie by die droë bestanddele terwyl jy meng, tot ’n sagte deeg vorm. Knie die deeg goed op ’n meelbestrooide oppervlak tot dit glad en elasties is en nie meer aan jou hande vassit nie.

Sit die deeg in ’n mengbak wat met olie gesmeer is en bedek losweg. Sit die bak op ’n warm plek en laat rys die deeg tot verdubbel in volume. Terwyl die deeg rys, maak die vulsel. Braai die spek in ’n droë pan. Voeg die ui en knoffel by en braai saam met die spek tot die uie sag en gekaramelliseer is.

Verwyder van die hitte en roer die songedroogde tamaties by. Laat afkoel. Sodra die deeg goed gerys het, knie dit af en verdeel in twee ewe groot bolle deeg. Rol elke stuk deeg in ’n reghoek uit tot dit sowat 1 cm dik is. Verdeel die spekvulsel gelyk tussen die twee stukke uitgerolde deeg en versprei dit egalig.

Sprinkel die kaas oor die vulsel en druk die vulsel goed vas. Rol nou elke reghoek deeg van die lang kant af op in ’n stywe, lang rol. Gebruik ’n skerp sjefsmes om elke rol reg van bo af in die lengte middeldeur te sny. (Jy moet nou 4 lang stukke deeg hê, waarvan die vulsel sigbaar is.)

Draai twee stukke deeg oormekaar om een lang, gedraaide stuk deeg te maak. Rol nou die gedraaide stuk deeg losweg in ’n spiraalvorm op, of soos ’n slak se dop. Herhaal die proses met die ander twee stukke deeg. Jy het nou twee ronde gevlegte brode op die werksoppervlak.

Sit elke brood op ’n gesmeerde bakplaat, bedek losweg en laat rys vir sowat 30 minute op ’n warm plek. Voorverhit die oond tot 200 °C. Sodra die deeg goed uitgerys is, bak die brode vir sowat 35 minute, of tot goudbruin en deurgaar. Laat effens afkoel en sit louwarm voor met botter en kaas.

Lewer 2 middelslagbrode

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.