Deur vulsel onder die vel te stop, sorg jy datdie geure dwarsdeur die vleis trek en dat die vel bros bak. Jy kan gegeurde botter, geurige smere (soos pesto of tapenade) of enige soort kaas gebruik. Botter gegeur met vars kruie, swartpeper, heelkorrelmosterd, pikantrissies of kappertjiesaad sal lekker werk.

- 6-8 groot hoenderdye, met vel en been

- 2 wiele fetakaas, fyngekrummel

- 100 g ontpitte, groen olywe, fyngekap

- 5 ml tiemieblaartjies, baie fyn gekap

- Fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen

- Olyfolie

- Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

- Vars pietersielie, om af te rond

Voorverhit die oond tot 190 °C. Maak die vel van die hoender liggies los sonder om dit heeltemal af te trek – dit moet ’n sakkie vorm. Meng die fetakaas, olywe, tiemie en suurlemoenskil goed saam en skep ’n lepel daarvan tussen die vel en die vleis van elke hoenderdy.

Versprei die vulsel egalig en trek die hoender se vel terug oor die vulsel. Pak in ’n oondbak. Druk die suurlemoensap oor die hoender uit en bedruip met ’n bietjie olyfolie.

Geur elke hoenderdy bo-op goed met sout en peper. Bedek en bak vir 30 minute. Verwyder die foelie of deksel, verlaag die oondtemperatuur tot 170 °C en bak vir ’n verdere 20-30 minute tot die vel bros en die vleis sag en sappig is. Rond af met vars pietersielie. Sit die gevulde dye voor met gestoomde baba-aartappels, rys of koeskoes en groente of slaai van jou keuse.

Lewer 6 porsies.