1 ontbeende varklies van 1,7 kg

Sout en varsgemaalde swartpeper

8 knoffelhuisies, fyngedruk

Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

30 ml heelkorrelmosterd

30 ml olyfolie

1 ui, baie fyn gekap

2 stele seldery, baie fyn gekap

5 repe spekvleis

400 ml appelbier, plus ekstra indien nodig

Glaseersel

80 ml warm appelkooskonfyt 45 ml appelasyn

Sit die varklies met die velkant na onder op ’n kapplank neer. Geur die vleis met sout en peper. Meng die fyngedrukte knoffelhuisies, suurlemoenskil en mosterd en smeer dit oor die vleis.

Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die ui en seldery liggies saam tot sag. Laat afkoel tot kamertemperatuur. Skep die uiemengsel op die mosterdsmeer oor die vleis en versprei dit egalig.

Pak die repies spek op die uiemengsel en druk dit met jou hande vas. Rol die varklies op en bind dit netjies met kombuistou vas. Maak vlak snitte in die varkvleis se vel met ’n baie skerp mes.

Voorverhit die oond tot 160 °C en sit die gerolde lies in ’n goedgesmeerde oondbak. Giet die appelbier oor die vleis. Bak die varkliesrol vir ongeveer 3 uur of tot die vleis sag is. (Maak seker dat daar deurgaans genoeg vloeistof in die pan is.)

Verhoog die oondtemperatuur tot 220 °C. Smeer die varkliesrol met ’n mengsel van appelkooskonfyt en appelasyn. Rooster die vark vir ongeveer 15 minute tot die vel goudbruin en bros is. Laat die vleis afkoel tot kamertemperatuur voor dit in skywe gesny en opgedien word.

Lewer 8-10 porsies.