Ek gebruik graag wit aspersies (uit ’n blikkie) omdat die geur daarvan vir my beter werk saam met die ham en eier.

¦ Ongeveer 8 snye vars witbrood

¦ 45 ml mayonnaise

¦ 10 ml heelkorrelmosterd

¦ 8 stukke gerookte toebroodjieham

¦ 1 blik (420 g) aspersies in soutwater, goed gedreineer

¦ 8 eiers

¦ 250 ml melk

¦ 100 ml room

¦ 1 wiel fetakaas, baie fyn gekrummel

¦ Sout en vars gemaalde swartpeper

Sny die korsies van die brood af. Meng die mayonnaise en mosterd en smeer elke sny brood goed aan een kant daarmee. Sit ’n stuk ham bo-op elke sny brood. Sit 1-2 aspersies op elke sny brood en rol die aspersies in die brood toe.

Pak die gerolde broodjies in ’n gesmeerde oondvaste bak. Klits die eiers, melk en room saam, voeg die fetakaas, sout en peper by. Giet oor die gerolde broodjies en verkoel vir 30 minute, of tot ’n halfuur voor julle wil eet.

Voorverhit die oond tot 190°C en bak die broodpoeding vir 15 minute, verlaag die oondtemperatuur tot 160°C en bak vir ’n verdere 20 minute, tot die eier ferm en die bokant goudbruin is. Sit warm voor. Lewer 6 porsies.