1 kg (8 k) bruismeel

375 ml ligbruinsuiker

15 ml bakpoeier

5 ml sout

200 g pekanneute, fyngekap

500 ml hawermout, fyngemaal

125 ml elk lynsaad, sonneblomsaad en pampoensaad

60 ml papawersaad

750 ml karringmelk

350 g botter of margarien

125 ml olie

3 ekstragroot eiers, geklits

Voorverhit die oond tot 180 °C. Bespuit ’n groot oondvaste bak met kleefwerende kossproei. Voer met bakpapier uit en smeer weer. Meng die meel, suiker, bakpoeier, sout, pekanneute, fyn hawermout en sade in ’n groot mengbak.

Verhit die karringmelk en botter (of margarien) stadig oor lae hitte tot die botter gesmelt is. Verwyder van die hitte en klits die olie by. Laat staan vir 2-3  minute en klits die eiers by. Voeg die karringmelkmengsel by die droë bestanddele in die bak en meng goed.

Gooi in die voorbereide oondbak en smeer gelyk. Gebruik ’n tafelmes of eierspaan en sny die mengsel in beskuite in die oondbak. Bak vir ongeveer 50 minute of tot die beskuit deurgaar is.

Haal uit die oond, laat effens afkoel en breek in beskuite op die snylyne. (Sny of breek die beskuite nog kleiner of dunner indien verkies.) Pak die gesnyde beskuit op bakplate en droog dit oornag teen 70 °C uit.

Laat afkoel tot kamertemperatuur en bêre in ’n lugdigte houer.

Lewer ongeveer 4 dosyn beskuit