Vis

  • 1 heel vis van ongeveer 1,2 kg (skubbe en binnegoed verwyder), teen kamertemperatuur
  • Sout en peper na smaak
  • 80 g sagte botter
  • 5 ml paprika
  • 5 ml seekosmasala
  • Fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • 30 ml vars pietersielie, fyngekap

Soutkors

  • 750-900 ml growwe seesout
  • 3 eierwitte, liggies geklits

Voorverhit die oond tot 190 °C en voer ’n oondbak waarin die vis gemaklik sal pas, met ’n vel waspapier uit. Bespuit die papier liggies met kleefwerende kossproei.

Vou die vis oop en geur die binneholte liggies met sout en peper. Klop die botter, paprika, seekosmasala, suurlemoenskil en -sap en pietersielie goed saam en smeer dit egalig in die binneholte van die vis. Vou die vis toe.

Meng die sout met net genoeg van die eierwit sodat dit soos klam seesand voel, maar steeds vormbaar is. As die mengsel ’n bietjie droog is, voeg ’n paar druppels water by om dit aan te klam.

Skep ’n bed van die klam seesout op die vel waspapier en sit die vis daarop neer. Bedek die bokant van die vis met die res van die klam soutmengsel. Maak seker die sout vorm ’n egalige laag om die vis en is oral ewe dik. Bak die vis vir sowat 30 minute.

Haal die vis uit die oond en laat dit vir 7-10 minute staan voor jy die harde soutkors met ’n mes of houtlepel breek en van die vis afhaal. Sit voor met slaai, aartappels, vars suurlemoen en goeie olyfolie.

Lewer 4-6 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.