Heerenbone is een van die staatmakers op Marianas se spyskaart. Toe Mariana op ’n dag dié baie skaars droëbone, wat net in ’n spesifieke deel van die Sandveld gekweek word, by ’n plaaslike padstal sien, het sy die hele 10 kg wat hulle in voorraad gehad het, gekoop.

Hulle het ’n voorgereg met die bone geprakseer en dit was dadelik ’n treffer. Die gewildheid van die bone het egter beteken dat die aangekoopte voorraad baie vinnig afgeneem het. Nou onderneem hulle jaarliks ’n pelgrimsreis na die Sandveld waar hulle ver plaaspaaie ry en op vriende se vriende – of soms op wildvreemdelinge – staatmaak om die kosbare voorraad heerenbone in die hande te kry.

¦ 200 g heerenbone

¦ 2 lourierblare

¦ 2 knoffelhuisies (opsioneel)

¦ 45 ml vars salie of marjolein (of ’n mengsel van vars kruie van jou keuse), fyn gekap

¦ Sout en vars gemaalde swartpeper of rissie na smaak

¦ 125 ml goeie olyfolie

¦ Geroosterde tamaties, olywe en roketblare, om voor te sit

Kitsweekmetode (vir bone wat onlangs geoes is)

Sit die bone in ’n groot kastrol en voeg 1,5 liter water by. Verhit dit baie stadig tot kookpunt. Sit die plaat af, sit die deksel op en laat dit vir ’n uur week. Maak seker daar is nog genoeg water in die kastrol sodat die bone behoorlik bedek is. Voeg die lourierblare en knoffelhuisies by en verhit dit stadig tot kookpunt.

Laat die bone vir 1½-2 uur liggies kook – gaan loer elke dan en wan en haal dit van die plaat af wanneer dit so gaar is soos jy dit verkies. Dreineer die bone en voeg die kruie, sout en peper (of rissie) by terwyl dit nog warm is. Drup die olyfolie oor en roer dit versigtig deur sonder om die bone te breek. Laat dit afkoel tot kamertemperatuur tot jy reg is om dit voor te sit.

Sit die bone teen kamertemperatur voor saam met geroosterde tamaties, olywe en ’n paar roketblare. Skink ’n glasie rosé en lê weg! Lewer 4 porsies (as voorgereg).

Oornagweekmetode (vir bone wat 8 maande of langer in jou koskas lê)

Week die bone oornag in lekker baie water. Dreineer die bone, voeg genoeg vars water en knoffelhuisies en lourierblare by en laat dit stadig kook tot die bone gaar, maar nog ferm is. Volg die res van die stappe vir die kitsweekmetode.

Marianas se Vier Seisoene word deur Human & Rousseau uitgegee, kos R350 en is ook in Engels beskikbaar as Mariana’s Country Kitchen.

MarianaseVierSeisoene