1 heel werfhoender, in porsies gesny

1 hoenderaftrekselblokkie

Paar peperkorrels

1 lourierblaar

2 heel naeltjies

1 x 500 g pak spaghetti

30 ml botter

250 g spekvleis, gesnipper

2 uie, gekap

250 g sampioene, gesnipper

30 ml gekapte, varspietersielie

375 ml gerasperde kaas

250 ml melk

6 ekstragroot eiers

Kook die hoender met die aftrekselblokkie, peperkorrels, lourierblaar en naeltjies in genoeg water om die hoender te bedek tot sag. Laat afkoel en vlok die hoender. Giet die aftreksel deur ’n sif om van die naeltjies en lourierblaar ontslae te raak en behou die aftreksel.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Kook die spaghetti in ’n pot vinnig kokende soutwater (met ’n bietjie olie by) tot gaar, maar steeds ferm. Terwyl die pasta kook, verhit die botter in ’n kastrol en braai die spek, uie en sampioene daarin tot gaar.

Voeg die pietersielie by. Dreineer die spaghetti en meng dit met die gevlokte hoender en met die spek-en-sampioenmengsel. Voeg die gerasperde kaas by en meng goed.

Skep in ’n groot oondbak en versprei egalig. Klits die hoender aftreksel, melk en eiers saam en giet oor die hoender-en-pastamengsel. Bak vir ongeveer 45 minute tot ferm en goudbruin. Laat effens afkoel en sit voor met slaai. Lewer 10-12 porsies.