Hoender en rooiwyn is ’n bekende smaakkombinasie, maar die rokerigheid wat die spek aan die tamatie-en-wynsous gee, trek heerlik deur die hoendervleis. Dis ’n gunsteling-aandete in my huis.

¦ 8 hoenderstukke

¦ Sout en peper

¦ 30 ml olyfolie

¦ 1 groot ui, gekap

¦ 1 groen soetrissie, gekap

¦ 4 repe spekvleis, gesnipper

¦ 4 knoffelhuisies, gekap

¦ 125 ml vrugtige rooiwyn

¦ 1 x 410 g-blik gekapte tamaties in sap

¦ 125 ml hoenderaftreksel

Voorverhit die oond tot 180ºC. Druk die hoender droog en geur met sout en peper. Verhit die olie en braai die hoender daarin tot goudbruin. Skep uit in ’n oondbak en hou eenkant.

Braai die ui, soetrissie en spek in dieselfde pan tot gaar. Voeg die knoffel by en braai tot geurig. Voeg die wyn by en verhit tot kookpunt, terwyl jy die pan se boom skraap. Voeg die tamaties en aftreksel by en laat kook sonder die deksel vir sowat 10 minute. Giet oor die hoender in die oondbak en bedek met foelie. Bak vir 30 minute.

Haal die foelie af en bak vir nóg 15 tot 20 minute. Sit voor op rys, koeskoes of noedels. Lewer 6-8 porsies.