45 ml olie

2 uie, gekap

3 knoffelhuisies

3 kardemompeule

2 kaneelstokkies

12 hoenderporsies met vel en been (ek het boudjies en dye gebruik)

1 blik (410 g) gekapte tamaties

5 ml borrie

10 ml elk fyn komyn en koljander, gerooster

10 ml geroosterde kerriepoeier

1 brandrissie, fyngekap met pitjies en al (opsioneel)

Water

10 ml vars gemmer, fyngerasper

5 middelslag-aartappels, geskil en in kwarte gesny

Sout en suiker na smaak

Skeut suurlemoensap

Vars koljanderblare, om af rond

Verhit die olie in ’n groot kastrol en braai die uie, knoffel, kardemompeule en kaneel daarin oor matige hitte tot die uie amper sag is.

Voeg die hoenderporsies by en braai tot dit begin verbruin. Voeg die gekapte tamaties en borrie by en braai vir 2 minute voor jy die komyn, koljander, kerriepoeier en brandrissie (indien gebruik) byvoeg.

Maak die tamatieblik twee keer vol water en voeg die water by die hoender in die kastrol. Voeg die vars gemmer by, verhit tot kookpunt en prut oor matige hitte vir ongeveer 25 minute.

Voeg die aartappels by, gee die hoendergereg ’n roer of twee en geur goed na smaak met sout en ’n knippie suiker om die geure te balanseer. Prut verder tot die aartappels sag en die hoender sag en gaar is.

Voeg ’n skeut suurlemoensap by, geur weer na smaak en rond af met vars koljander. Sit voor op gestoomde rys en skep ’n lepel van die lekker sous oor.

Lewer 6-8 porsies