Of jy nou self lus is vir pizza, gaste wil beïndruk of op ’n road trip is en graag gou-gou en sonder veel moeite wil braai, hierdie pizza is die antwoord.

Ek het hom ’n paar jaar gelede die eerste keer op die Jan Braai vir Erfenis-televisiereeks gemaak en hy was oornag ’n sensasie. In die eerste paar weke daarna was hy so gewild dat baie supermarkte se voorafbereide pizzas daagliks uitverkoop het.

Die moontlikhede vir kroonbestanddele – oftewel toppings – is eindeloos en jy kan enigeen van jou gunsteling-voorafbereide pizzas gebruik. Ek koop gewoonlik twee pizzas met verskillende kroonbestanddele en gooi dan ekstra fetakaas oor voordat ek hom vuur toe vat. Geniet!

2 winkel-pizzas (rou, maar met die kroonbestanddele van jou keuse)

ietsie ekstra (waaronder, maar nie beperk nie, tot fetakaas, knoffel, sampioene, kappertjiesaad, olywe, geroosterde groente of songedroogde tamaties)

toeklaprooster

Steek ’n vuur aan en wag tot die kole omtrent die regte hitte het om braaibroodjies op te braai – met ander woorde, mediumhitte. Sit die twee pizzas bo-op mekaar met die vulsel na binne. As jy ietsie ekstra vooraf wil bysit, maak so.

Sit die pizza-toebroodjie in jou toeklaprooster, maak hom styf toe en braai. Draai hom gereeld om, net soos jy met ’n braaibroodjie sou doen. Jy wil die buitekant bros en gerooster hê en die kaas aan die binnekant heeltemal gesmelt.

Sodra jy die perfekte pizza het, laat gly hom van die rooster af op ’n houtbord en sny in skywe. Sit dadelik voor.

Lewer 2-4 porsies