Bederf Ma hierdie Moedersdag met 'n lekker koppie tee en 'n tuisgemaakte kaaskoek.

Onfeilbare suurlemoen-yskaskaaskoek

'n Staatmaker wat ook lekker in 'n oondpan pas en dan in blokkies gesny kan word. Heerlik met enige bolaag.

Kors

2 pakkies Tennisbeskuitjies, gekrummel

100 ml — 160 ml gesmelte botter

'n Knippie kaneel

Vulsel

1 blik (397 g) volroom-kondensmelk

150 ml suurlemoensap

30 ml fyngerasperde suurlemoenskil

2 houers (200 g elk) geroomde maaskaas

30 — 40 ml gelatien

60 ml koue water

100 ml kookwater

500 ml dik room

125 ml strooisuiker

B10 ml vanieljegeursel

suurlemoensmeer (lemon curd) of vrugtesous

Meng die bestanddele vir die kors goed saam. Druk dit vas op die bodem van 'n losboomkoekpan van 35 cm en verkoel tot benodig. Meng die kondensmelk en suurlemoensap en roer die maaskaas by. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan vir 5 minute om te spons. Giet die kookwater oor en roer om te smelt. Roer by die maaskaasmengsel. Klits die room, strooisuiker en vanieljegeursel saam tot styf en vou maaskaasmengsel in. Giet in die voorbereide tertkors en verkoel vir 5 uur of oornag tot gestol. Smeer 'n lagie suurlemoensmeer of vrugtesous van jou keuse oor en sit voor.

Lewer 1 groot kaaskoek.

Bar-one-kaaskoek

Sit dié kaaskoek teen kamertempatuur voor om die sjokoladestukkies binne-in tot hul reg te laat kom.

Kors

250 g sjokoladebeskuitjies, gekrummel

80 — 100 ml gesmelte botter

Vulsel

30 ml bruinsuiker

20 g botter, ekstra

300 ml dik room

50 g melksjokolade, gekap

30 ml gelatien

60 ml koue water

500 g geroomde maaskaas

125 ml strooisuiker

180 g Bar-one, in klein stukkies gekap

Meng die krummels en botter goed saam. Druk dit op die bodem en teen die kante van 'n losboomkoekpan van 22 cm vas en verkoel tot benodig. Verhit die suiker, 20 g botter en 30 ml van die room saam tot gesmelt. In 'n ander kastrol, smelt die sjokolade en nóg 30 ml van die room. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan tot gespons. Laat staan oor kookwater tot gesmelt. Klits die maaskaas en strooisuiker saam tot glad.Klits die orige room styf en vou by die maaskaasmengsel in. Roer die gelatien en Bar-one stukkies by. Giet die helfte van die mengsel in die krummelkors. Drup die helfte van die botterkaramelsous en sjokoladesous oor. Gebruik 'n mes om 'n marmereffek te skep. Giet die res van die maaskaasmengsel bo-oor en rond af met die orige botterkaramelsous en sjokoladesous. Verkoel oornag tot gestol.

Lewer 1 middelslag kaaskoek.

Gebakte appelkoos-kaaskoek

Hierdie is 'n resep van Ina Paarman en is, soos elkeen van haar resepte, 'n treffer.

Kors

300 ml gemaalde amandels

45 ml sagte botter

30 ml suiker

Appelkoossous

125 ml droë appelkose

190 ml water

45 ml suiker

60 ml sjerrie

5 ml gerasperde lemoenskil

Vulsel

250 ml appelkoossous (sien metode)

2 houers geroomde maaskaas

45 ml mielieblom

60 ml koekmeelblom

2 ml vanieljegeursel

180 ml suiker

fyngerasperde skil van ½ suurlemoen

2 ekstragroot eiers

250 ml room, geklop

125 ml dik natuurlike joghurt

Meng die bestanddele vir die kors saam en druk dit op die bodem van 'n losboompan van 24 cm vas. Verkoel tot benodig.

Vir die appelkoossous: Verhit die appelkose en water tot kookpunt en laat prut liggies tot die vrugte plomp en sag is. Voeg die suiker by en roer om op te los. Puree die mengsel tot 'n sous. Voeg die sjerrie en gerasperde skil by. Hou eenkant. Voorverhit die oond tot 180 °C. Klits die maaskaas, mielieblom, koekmeelblom, vanieljegeursel, suiker en suurlemoenskil saam. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Vou die room en joghurt in. Skep die helfte van die mengsel uit in 'n bakkie en roer 125 ml van die appelkoossous daarby. Skep lepelsvol van die appelkoosmengsel — afgewissel met lepelsvol van die skoon mengsel — op die kors en trek 'n mes daardeur om 'n marmer-effek te verkry. Sit die pan in 'n groot oondroostersak (wat vir vleissnitte bedoel is) en knoop toe. Prik die bokant sodat stoom kan ontsnap. Plaas dit in 'n oondbak wat halfpad met water gevul is en bak vir 20 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C en bak vir 'n verdere 30 minute. Skakel die oond af en maak die oonddeur op 'n skrefie oop. Laat die koek vir 'n uur in die lou oond afkoel. Sit voor met die orige appelkoossous.

Lewer 1 middelslag kaaskoek.

Nota

Groot krake op gebakte kaaskoek is waarskynlik as gevolg van die volgende:

— Die mengsel is té veel geklits.

— Die oondtemperatuur was te hoog.

— Die koek is te lank gebak.

— Die koek is te vinnig afgekoel (dit moet altyd in die oond met die deur half-oop afgekoel word. Sien resep langsaan).

Luukse wit sjokoladekaaskoek

'n Kaaskoek vir 'n spesiale geleentheid. Dis heerlik, maar baie ryk — 'n dun snytjie hiervan sal genoeg wees.

Kors

1 pak koekies, gekrummel

50 g gepelde amandels, gerooser

50 g haselneute, gerooster

60 ml — 80 ml gesmelte botter

2 ml kaneel

Vulsel

350 g wit sjokolade, gekap

120 ml room

670 g roomkaas of mascarpone

60 ml strooisuiker

4 ekstragroot eiers

15 ml vanieljegeursel

Bolaag

450 ml suurroom

60 ml strooisuiker

15 ml haselneutlikeur of whisky

wit sjokoladekrulle en kaneel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng die bestanddele vir die kors saam en druk dit op die bodem en teen die kante van 'n losboomkoekpan van 30 cm vas. Bak vir 5 — 7 minute en hou eenkant. Verlaag die oondtemperatuur tot 150 °C.

Smelt die sjokolade en room oor lae hitte saam tot glad. Roer gereeld. Laat afkoel. Klits die roomkaas of mascarpone en suiker saam tot glad. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Roer die vanieljegeursel by. Giet in die tertkos en bak vir 45 — 55 minute tot die rand ferm, maar die binnekant nog sag is. Verwyder uit die oond en verhoog die oondtemperatuur weer tot 200 °C. Maak die bolaag: Klits ál die bestanddele, behalwe die sjokoladekrulle en kaneel, saam en giet oor die kaaskoek. Smeer sodat dit die koek egalig bedek. Plaas die koek terug in die oond vir 5 — 7 minute. Skakel die oond af en maak die deur op 'n skrefie oop. Laat die koek in die oond afkoel. Wanneer koud, versier met sjokoladekrulle en sprinkel 'n fyn lagie kaneel oor.

Lewer 1 groot kaaskoek.

Gebakte brandewynkaaskoek

Dié kaaskoek herinner aan outydse karringmelkpoeding, maar met 'n effense brandewyngeur. Baie lekker met groenvye of lemoenkonserf en 'n koppie koffie.

Kors

1 pakkie (200 g) karamel- of toffiekoekies, gekrummel

80 ml gesmelte botter

2 ml kaneel

Vulsel

2 houers geroomde maaskaas

125 ml suurroom

125 ml strooisuiker

2 ekstragroot eiers

30 ml mielieblom

45 ml koekmeelblom

15 ml suurlemoensap

45 — 60 ml brandewyn

Voorverhit die oond tot 160 °C. Meng die bestanddele vir die kors saam en druk op die boom van 'n pan van 22 cm vas. Verkoel tot benodig. Klits die maaskaas, suurroom en strooisuiker saam tot goed gemeng. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Meng die mielieblom en koekmeelblom met die suurlemoensap en brandewyn tot 'n pasta en klits by die maaskaasmengsel. Giet in die voorbereide kors en bak vir 30 — 45 minute tot die buiterande ferm en goudbruin, maar die binnekant steeds sag is. Skakel die oond af, maak die deur effens oop en laat die koek in die oond afkoel. Sit voor teen kamertemperatuur.

Lewer 1 middelslag koek.

7 Mei 2004