Versier die bevrore kaaskoek met vars vrugte van jou keuse (karamel en piesang is ’n wenkombinasie), of met sjokoladekrulle.

  • 2 houers (200 g elk) ongegeurde roomkaas
  • 1 blik (360 g) karamelkondensmelk (of ongeveer 280 ml gekookte kondensmelk)
  • 250 ml room
  • 1 pakkie (200 g) karamelkoekies (ek het Nuttikrust-koekies gebruik)
  • 100 ml goeie koffie of espresso
  • Karamelsous en vars vrugte, om te versier

Spuit ’n standaardgrootte broodpan met kleefwerende kossproei en voer dit uit met kleefplastiek. Spuit die plastiek weer liggies. Klits die roomkaas tot glad en voeg die karamelkondensmelk (of tuisgemaakte, gekookte kondensmelk) daarby. Klits goed tot glad. Klits die room styf in ’n aparte bak.

Vou die geklopte room by die karamel-roomkaasmengsel in. Skep ’n lagie van die mengsel in die uitgevoerde broodpan. Giet die koffie of espresso in ’n papbord en doop 3-4 karamelkoekies op ’n slag daarin. (Moenie die koekies vir te lank doop nie, net vir ongeveer 2 sekondes aan elke kant, anders absorbeer die koekies te veel koffie en sal dit pap word.)

Pak die koekies in rye op die karamelmengsel. Bedek die koekies met nog ’n lagie karamel-roomkaasmengsel en pak dan weer ’n lagie gedoopte koekies. Herhaal die proses en eindig met ’n laag karamel-roomkaasmengsel. Bedek met kleefplastiek en vries oornag of tot wanneer benodig.

Keer die vrieskaskaaskoek uit op ’n mooi bord, giet ’n bietjie karamelsous (sien resep hier onder) oor en versier met vrugte. Sit voor met ekstra karamelsous.

Lewer 10 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.