750 g vrugtekoekmengsel

100 g glanskersies, gesnipper

125 g dadels, gesnipper

120 g botter

250 ml suiker

250 ml water

5 ml koeksoda

500 ml bruismeel

3 ml fyn gemmer

3 ml gemengde speserye

5 ml kaneel

2 eiers

125 ml brandewyn

Stap 1: Voorverhit die oond tot 150 °C. Smeer ’n koekpan van 20 cm goed met olie (dit help dat die bakpapier vassit teen die pan). Voer die boom van die pan met drie lae bakpapier uit. Sny stroke bakpapier, 3 cm hoër as die pan, en voer die kante van die pan ook met drie lae bakpapier uit, sodat dit bo die pan uitstaan.

Smeer nou met gesmelte botter, olie of spuit met kleefwerende kossproei. Sny ’n dubbele strook bruinpapier en draai dit rondom die pan. Bind vas met tou.

L.W. Dis nodig om die panne baie goed voor te berei. Die paar lae bakpapier en die bruinpapier buite-om keer dat die beslag te veel hitte kry en dat die koek brand of droog bak.

Stap 2: Verhit die vrugtekoekmengsel, kersies, dadels, botter, suiker en water stadig tot kookpunt. Prut vir vyf minute en laat effens afkoel.

Stap 3: Voeg die koeksoda by die vrugtemengsel (die mengsel sal skuim) en laat staan eenkant tot nodig. Meng die meel en speserye in ’n groot bak.

Stap 4: Klits die eiers by die vrugtemengsel in en voeg dan alles by die droë bestanddele. Roer tot goed gemeng.

Stap 5: Skep die beslag in die pan en smeer gelyk. Sny ’n sirkel van 20 cm uit bakpapier en smeer die een kant liggies met olie of gesmelte botter of spuit met kleefwerende kossproei. Sit die papier liggies met die gesmeerde kant na onder op die beslag neer.

Bak die koek op die middelste rak van jou oond vir ongeveer drie uur tot deurgaar of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.

Stap 6: Sprinkel 60 ml van die brandewyn oor die koek en laat vir 10 minute in die pan afkoel. Keer die pan op ’n draadrak om en verwyder die bakpapier. Sprinkel die res van die brandewyn oor die koek. Laat heeltemal afkoel op die draadrak.

Draai deeglik in foelie toe en bêre in ’n lugdigte houer. Klam elke week aan met ’n paar eetlepels brandewyn. Nie te veel nie, rofweg 15 ml brandewyn per 500 g koek. Draai die koek ook elke week om sodat jy nie die brandewyn keer op keer op dieselfde kant sprinkel nie.

Stap 1.
Stap 2.
Stap 3.
Stap 4.
Stap 5.

Wenk:
Dis maklik om dié resep te verdubbel as jy twee koeke wil bak. Dit werk net so goed.