Net drie bestanddele is nodig (die stukkies kersie is opsioneel), en die bonus is dat die koekies geen gluten bevat nie. Gebruik ’n spanspeklepel of ’n 5 ml-maatlepel om die koekies ’n mooi ronde vorm te gee. As jy wil, kan jy die kersies uitlos en die koekies in gesmelte wit- of donkersjokolade doop.

  • 2 pakkies (200 g elk) fyn klapper
  • 1 blik (385 g) volroomkondensmelk
  • 5 ml vanieljegeursel
  • ’n Paar glanskersies, in dun skyfies gesny
  • Versiersuiker, om oor te sif

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer bakplate met bakpapier uit. Spuit die bakpapier liggies met kleefwerende kossproei. Meng die klapper, kondensmelk en vanieljegeursel goed saam.

Skep netjiese teelepels vol op die bakplate. Sit ’n klein stukkie kersie bo-op elke koekie en druk dit liggies met jou vingerpunte vas. Bak vir 10-12 minute, tot die rande van die koekies ligbruin begin verkleur. Laat in die bakplate afkoel.

Sodra die koekies ferm genoeg is om te hanteer, lig dit met ’n eierspaan of paletmes van die bakplate af en laat heeltemal afkoel op ’n draadrak. Bêre in ’n lugdigte houer. Sif versiersuiker oor net voor jy die koekies voorsit.

Lewer ongeveer 110 koekies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.