6 middelslag-aartappels

Sout en olyfolie

4 knoffelhuisies

Fyn sout

60 g sagte botter

Voorverhit die oond tot 180 ºC. Sit elke aartappel op ’n groot lepel neer en sny dun skyfies daarin. (Die lepel sal keer dat jy die aartappels dwarsdeur sny.)

Pak die aartappels taamlik styf teen mekaar in ’n roosterbak, geur met sout en bedruip met olyfolie. Bedek die bak met foelie en bak die aartappels vir 45 minute.

Kap die knoffelhuisies fyn en strooi fyn sout daaroor. Hou jou mes se lem plat en smeer herhaaldelik oor die knoffel-en-soutmengsel tot dit ’n pasta vorm. Meng die knoffelpasta met die sagte botter.

Haal die aartappels uit die oond en skep die sagte knoffelbotter oor. Sit die aartappels (sonder om dit te bedek) terug in die oond en bak verder tot dit goudbruin en sag is. Bedrup die aartappels nou en dan met die gesmelte knoffelbotter in die oondbak. Sit warm voor as bykos.

Lewer 6 porsies