125 g sagte botter

180 ml suiker

1 ekstragroot eier

10 ml vanieljegeursel

500 ml koekmeel

10 ml bakpoeier

250 ml koejawelkonfyt

Voer ’n vierkantige koekpan van 20 cm met bakpapier uit en smeer goed.

Verroom die botter en suiker goed saam en voeg die eier en vanieljegeursel by. Meng goed. Voeg die bottermengsel by die meel en bakpoeier en meng goed tot ’n deeg vorm.

Verdeel die deeg in twee dele (een deel effens groter as die ander). Druk die groter deel van die deeg egalig op die boom van die voorbereide pan vas. Verkoel die pan tot benodig. Bedek die kleiner deel van die deeg en vries tot die deeg hard is.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer die konfyt in ’n egalige laag oor die deeg in die pan. Haal die bevrore deeg uit die vrieskas en rasper dit met ’n kaasrasper grof en egalig oor die konfytlaag.

Bak vir ongeveer 25 minute tot die deeg ’n goudbruin kleur het en die konfyt teen die kante van die pan borrel. Laat in die pan afkoel tot louwarm en sny in stafies. Laat afkoel tot kamertemperatuur voor jy die stafies uit die pan lig.

Lewer ongeveer 15 stafies