Jy kan die piekel wel sonder die brandrissies maak, maar die bietjie hitte en byt wat die heel brandrissies gee, sal maak dat jy nie wil ophou eet hieraan nie. Dit is belangrik dat die komkommers papierdun gesny word. As jy ’n mandoliensnyer het, gebruik dit hiervoor.

4 groot komkommers

Piekelmengsel

750 ml wit druiweasyn

500 ml suiker

12 ml seesoutvlokkies

5 ml elk dillesaad, gemengde droë kruie en swartpeperkorrels

4-6 heel groen brandrissies

5 vars lourierblare

Sny die komkommers met skil en al in baie dun skyfies. Verhit die asyn, suiker en seesoutvlokkies oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Roer aanhoudend en voeg die dillesaad, kruie en swartpeperkorrels by.

Sny ’n lang keep in die lengte van elke brandrissie, maar moenie deur die steeltjies sny nie. Voeg die rissies en lourierblare by die piekelmengsel. Verhit verder tot kookpunt en laat vinnig kook vir ongeveer 3 minute.

Verwyder die piekelmengsel van die hitte en skep al die komkommers daarin. Laat staan vir 20 minute.

Skep die komkommers met ’n gaatjieslepel uit die piekelmengsel en pak in gesteriliseerde flesse. Verhit die piekelvloeistof weer tot kookpunt. Laat kook vir ’n paar sekondes en giet die kokende vloeistof oor die komkommerpiekels in die flesse.

Verseël dadelik met gesteriliseerde deksels en laat afkoel. Laat staan die piekels vir drie dae voor jy dit gebruik.

Lewer ongeveer 1,25 liter piekels