2 bakkies (200 g elk) roomkaas

1 bakkie (230 g) geroomde maaskaas

310 ml strooisuiker

Sap van 1 suurlemoen

10 ml vanieljegeursel

5 ekstragroot eiers

250 ml elk room en suurroom

100 ml koekmeel

80 ml mielieblom

Versiersel

160 ml tuisgemaakte suurlemoensmeer (sien Kombuiswenk)

250 ml geklopte room

100 ml geroosterde klapperskaafsels

Voorverhit die oond tot 155 ºC en smeer ’n losboomveerklamppan van 22 cm goed. Bestuif die pan met meel en hou eenkant.

Klits die roomkaas glad. Voeg die maaskaas, strooisuiker en suurlemoensap by en klits weer tot glad. Voeg nou die vanieljegeursel, eiers, room en suurroom by en klits tot net gemeng. Sif die koekmeel en mielieblom oor en klits tot glad.

Gooi die mengsel in die voorbereide pan en bak vir 1 uur. Skakel die oond af en maak die oonddeur op ’n skrefie oop. Laat die kaaskoek in die oond afkoel tot kamertemperatuur. Verkoel verder tot benodig.

Versiersel: Vou lepels suurlemoensmeer by die geklopte room in en skep oor die kaaskoek. Sprinkel geroosterde klapperskaafsels oor om af te rond, indien verkies.

Lewer 1 groot kaaskoek (12-14 porsies).

KOMBUISWENK

Suurlemoensmeer: Verhit 60 g botter, die sap van 2 suurlemoene, 125 ml suiker en 2 geklitste eiers saam oor lae hitte terwyl jy aanhoudend klits. Verhit, terwyl jy klits, tot kookpunt en prut vir ’n paar minute. Laat afkoel, bedek en verkoel.