Viskoekies

3 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny

1 x 415 g blik salm, gedreineer

Halwe ui, gerasper

1 wiel fetakaas, baie fyn gekrummel

60 ml gekapte, vars pietersielie

1 ekstra-groot eier

Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

250 ml droë broodkrummels

45 ml olyfolie

Avo Ritz-slaai

2 groot, ryp avokado’s

Vars suurlemoensap om oor te sprinkel

40 groot steurgarnale, skoongemaak

100 ml mayonnaise

100 ml suurroom

Sout en witpeper na smaak

30 ml tamatiesous

Paar druppels Tobasco-sous

Viskoekies: Kook die aartappels in ’n pot soutwater tot sag, dreineer en druk goed fyn. Laat afkoel. Meng die fyn aartappel, salm, ui, fetakaas, pietersielie, eier en geurmiddels goed saam. Verkoel vir 30 minute.

Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ’n bakplaat met foelie uit. Smeer goed met olyfolie en hou eenkant. Verdeel die mengsel in agt ewe groot porsies en vorm viskoekies. Pak op ’n bakplaat of skinkbord. Meng die droë broodkrummels en olyfolie en bedek elke viskoekie egalig met die krummelmengsel. Pak die viskoekies op die gesmeerde bakplaat en bak vir 15 minute. Draai om en bak vir ’n verdere 15 minute tot die koekies goudbruin en bros is.

Laat afkoel tot kamertemperatuur en verkoel tot nodig. (Die koekies kan natuurlik ook warm voorgesit word.)

Slaai: Skil en ontpit die avokado’s en sny elkeen in kwarte. Sprinkel vars suurlemoensap oor. Stoom die steurgarnale liggies in ’n klein bietjie water tot net-net gaar. Dreineer en dompel dadelik in yswater. Dreineer weer en laat afkoel. Meng die mayonnaise, suurroom, sout, witpeper, tamatiesous en Tobasco saam.

Om voor te sit: Sit ’n viskoekie in die middel van elke bord. Sny elke avokado-kwart in skyfies en pak bo-op die viskoekie. Sit twee steurgarnale bo-op elke porsie avo en die ander drie langsaan. Drup van die sous rondom die viskoekies op die bord en bedruip die steurgarnale daarmee. Sit dadelik voor. Lewer agt porsies.