Ons het uit die bloute ’n uitnodiging na ’n goeie vriend se verjaardag gekry – nogal in die stad Keulen in Duitsland! Dit was omtrent ’n geskarrel om vliegtuigkaartjies en visums te kry binne net twee weke, wanneer die partytjie sou plaasvind.

Toe ons egter by die Duitse konsulaat in Port Elizabeth kom, vind ons uit ons kan nie via Londen terugvlieg sonder nóg ’n visum nie en daar was nie genoeg tyd om daarom aansoek te doen nie. Ons moed was goed gebreek. Ons het reeds vir alles betaal en nou het dit gelyk asof ons niks gaan hê om daarvoor te wys nie.

Dis amper soos om geld op ’n Springbokwedstryd te verwed. Die beste wat ons kon doen, was om ons sorge te verdrink met ’n bottel wyn en ’n goeie bord kos. Dit was nie ’n beplande of romantiese ete nie, maar ’n kwaad-eet-episode. Alles het verkeerd geloop en al wat ons wou doen, was om te stress eat.

Twee borde soesji en ’n porsie diepgebraaide ribbetjies later, het ons beter begin voel. Terwyl ons die sonsondergang bewonder het, het ons besluit om ’n plan te maak. Ons wou darem baie graag weet hoe lyk dit aan die ander kant van die groot dam. Ons planne het gelukkig uitgewerk en nie lank daarna nie was ons tasse gepak!

Lipplekker kortrib

1 skaap- of beesrib
1/2 ui, grof gekap
5 knoffelhuisies
1 eetlepel swartpeper
2 eetlepels gedroogde, gemengde kruie
2 eetlepels bruinasyn
Genoeg water om die rib te bedek

Sny kepies kruis en dwars oor die rib met ’n skerp mes; só kook die vet makliker uit. Sny die rib in stukkies. Sit dit met die res van die bestanddele vir 20 minute in ’n drukpot, maar moenie dit kook tot die vleis van die been afval nie. Haal die rib uit en sit op ’n droograkkie in die yskas. Begin met jou marinade.

Vir die marinade

3 knoffelhuisies
1/2 rooi ui
5 cm-stuk vars gemmer, geskil
1/2 selderystok
Hand vol vars pietersielie
Hand vol vars koljander
2 eetlepels vissous
2 eetlepels sesamolie
2 eetlepels sjerrie
1/4 koppie van die ribaftreksel

Sit al die bestanddele in ’n voedselverwerker en pols tot fyn. Die marinade moenie te loperig wees nie; dit moet aan die rib kleef. Wanneer jou rib afgekoel het en droog is, kan jy dit deur die marinade meng en weer in die yskas sit. Ek laat marineer dit vir sowat drie uur, maar hoe langer, hoe beter.

Vir diepbraai

1 pakkie broodkrummels (growwe Asiatiese panko-krummels werk goed)

Verhit olie in ’n swaarboompot tot mediumhoog. Die olie moenie te warm wees nie, anders raak die krummels swart en bitter. As dit te koud is, suig die krummels net olie op. Rol nou die rib (met die marinade daarop) in die krummels en braai tot goudbruin. Sit dit voor met ’n soja- of soetrissie-doopsousie en garneer met koljander en geroosterde sesamsaad.