Jy sal die broodjie ook met ingelegde groenvye kan maak, of enige ander konserf of ingelegde vrugte wat min of meer dieselfde tekstuur as kwepers het, soos ingelegde pere of tertappels. Maak net seker jy dreineer die vrugte goed.

As daar te veel stroop op die vrugte is, sal die broodjie nie behoorlik deurbak nie.

125 g sagte botter

125 ml suiker

2 ekstragroot eiers

5 ml vanieljegeursel

5 ml fyn kaneel

80 ml melk

310 ml koekmeel

7 ml bakpoeier

125 ml pekanneute, gerooster en gekap

180 ml ingelegde kwepers, fyngesnipper

Versiersuiker, om oor te sif

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n kleinerige broodpan met olie of spuit met kleefwerende kossproei. Voer met ’n reep bakpapier uit en smeer of spuit weer.

Verroom die botter en suiker goed saam tot lig en romerig. Voeg die eiers, vanieljegeursel en kaneel by en klits goed. Voeg die melk by en klits deur. Sif die meel en bakpoeier oor die geroomde bottermengsel en voeg die neute en kweperstukkies by.

Meng goed en skep die beslag in die voorbereide pan. Bak vir ongeveer 40 minute of tot die broodjie goudbruin en deurgaar is.

Laat die broodjie vir ’n paar minute in die pan afkoel en keer op ’n draadrak uit. Laat afkoel tot kamertemperatuur en bêre in ’n lugdigte houer. Sif versiersuiker oor net voor jy dit voorsit.

Lewer 1 kleinerige broodjie (sowat 8 snye)