’n Soet-en-speserykombinasie smaak veral vorentoe saam met wildsvleis, en daarom het ek my kweperjellieresep ’n sweempie van ’n speserygeur gegee. Dit is nou die ideale jellie om saam met wildspastei of wildspatee voor te sit, of om oor ’n wildsboud te smeer voor dit bruingebak word.

Kwepers

Water

Suiker

Suurlemoensap

Heel steranys

Sny heel kwepers in klein stukke (behou die skille, klokhuise en pitte) en sit dit in ’n groot kastrol. Voeg genoeg water by om die kwepers heeltemal te bedek.

Verhit tot kookpunt en kook vir ongeveer 60 minute tot die kwepers sag is. Die kwepers en vloeistof sal teen dié tyd ’n ligpienk kleur hê.

Voer ’n vergiettes of groot sif met ’n stuk skoon, ongebleikte linne of kaasdoek uit en skep die kwepers daarin. Giet enige vloeistof in die kastrol ook daardeur, maar maak seker jy vang al die sap op. Laat staan vir 2 uur tot alle sap uitgedrup het.

Meet die hoeveelheid vloeistof af wat uitgedrup het. Vir elke 600 ml vloeistof, voeg 500 ml suiker, 60 ml suurlemoensap en 1 heel steranys by.

Verhit die kwepersap, suiker en suurlemoensap stadig oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Verhit verder tot kookpunt en kook vir ongeveer 25-30 minute. Roer dan en wan.

Die vloeistof sal ’n dieprooi kleur kry, effens verdik en vinnig opbruis met baie borrels. As dit gebeur, weet jy dis reg. (Jy kan ook ’n bietjie van die vloeistof op ’n koue piering skep. As dit ná ’n paar sekondes ’n ligte jel vorm, is dit reg.)

Giet die vuurwarm jellie in gesteriliseerde flesse en verseël dadelik met gesteriliseerde deksels. Laat staan vir een week voor gebruik.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.