2 pakkies (200 g elk) Tennis-beskuitjies

1 liter melk

1 blik (385 g) kondensmelk

45 ml suiker

1 ekstragroot eier

30 ml vlapoeier

45 ml mielieblom

2 ml sout

30 ml botter

10 ml vanieljegeursel

Fyn kaneel

Bespuit ’n middelslag-broodpan met kleefwerende kossproei en voer met kleefplastiek uit wat oor die kante van die pan hang. Bespuit weer liggies. Pak ’n laag Tennisbeskuitjies onder in die pan en laat staan ook ’n paar Tennisbeskuitjies regop teen die kante van die pan.

Hou die res van die Tennisbeskuitjies eenkant. Verhit die melk tot net onder kookpunt in ’n kastrol. Klits die kondensmelk, suiker, eier, vla- poeier, mielieblom en sout saam in ’n mengbak tot ’n gladde pasta. Giet die helfte van die warm melk by die kondensmelkmengsel en roer goed tot glad.

Gooi alles terug by die res van die melk in die kastrol. Verhit oor lae hitte tot kookpunt, terwyl aanhoudend geroer word. Prut tot verdik en gaar, terwyl jy steeds bly roer. Verwyder van die hitte en roer die botter en vanieljegeursel by. Skep ’n lagie van die warm melktertpap op die laag Tennisbeskuitjies.

Sprinkel ’n bietjie kaneel oor, gevolg deur nog ’n laag Tennisbeskuitjies en melktertpap. Herhaal die lae en eindig met ’n laag Tennisbeskuitjies. Laat afkoel tot kamertemperatuur.

Bedek met kleefplastiek en verkoel in die yskas tot benodig. Om voor te sit: Haal die kleefplastiek af, keer die tert op ’n opdienbord uit en sny in skywe. Lewer 10 porsies.