Jy kan enige gaar oorskiet-lams- of -skaapvleis gebruik. Boudvleis of skenkelvleis sal perfek werk. Pak die afgekoelde pasteie sommer weer in die pan waarin jy dit gebak het sodat dit nie breek wanneer dit vervoer word nie. 

Suurroomdeeg

750 ml koekmeel
200 g botter
250 ml suurroom

Yswater, indien nodig
1 eier, vir verf

Vulsel
1 groot ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
30 ml olie
750 ml gaar lams- of skaapvleis, gevlok of fyn gesny
500 g spinasie, baie goed skoongemaak en fyn gekerf
15 ml koekmeel
Sout, peper en neutmuskaat na smaak
Hand vol geroosterde dennepitte (opsioneel)

Maak eers die deeg: Verwerk die meel en botter in ’n voedselverwerker tot krummelrig (of vryf die botter met jou vingerpunte by die meel in). Voeg die suurroom by en meng tot ’n deeg vorm (voeg ’n paar druppels yswater by indien die mengsel te droog lyk). Druk die deeg effens plat en draai deeglik toe in kleefplastiek of waspapier. Verkoel vir ’n uur.

Vir die vulsel: Braai die ui en knoffel stadig in ’n groot pan in die olie tot sag. Voeg die gevlokte (of gesnyde) vleis by en braai tot deurwarm (jy kan ’n spatsel water of aftreksel byvoeg as daar nie genoeg vet in die vleis is om vloeistof te vorm nie). Voeg die spinasie by, bedek die pan en laat stoom tot gaar. Roer deur. Sprinkel die meel oor en sit die pan terug op die hitte. Verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt.

Laat prut tot die pansouse effens verdik is en geur dan die vulsel na smaak met sout, peper en ’n bietjie neutmuskaat. Voeg die dennepitte by, indien gebruik. Laat die vulsel afkoel tot kamertemperatuur voor jy die pasteie maak. Maak die pasteie: Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ses indivuduele pasteibakkies of ’n muffinpan met ses groot holtes goed met gesmelte botter. Sny ’n kwart van die deeg af en hou eenkant.

Rol die res van die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en druk ses sirkels daaruit wat groot genoeg is om die pasteibakkies uit te voer. Voer die bakkies uit en sny die bokante netjies gelyk. Skep die afgekoelde vulsel in en druk goed vas. Rol die res van die deeg uit en druk groot genoeg sirkels uit om die bokante van die pasteie te bedek. Seël die kante met ’n vurk, versier die pasteie bo-op met stukkies afvaldeeg en verf met geklitste eier.

Bak vir 10 minute en verlaag dan die temperatuur tot 170 °C. Bak vir ’n verdere 20-25 minute tot die pasteie goudbruin en bros is. Haal uit die oond, laat vir 10 minute in die panne afkoel en pak dan op draadrakke om verder af te koel. Die pasteie kan vir die piekniek teen kamertemperatuur of selfs koud voorgesit word. Lewer 6 porsies. 

Teken HIER vir ons kosnuusbrief in en ontvang elke twee weke 'n gratis nuusbrief met heerlike resepte en artikels.