1,5 kg stowelamsvleis, in blokkies gesaag (bv. skenkel en blad)

Sout en vars gemaalde swartpeper

45 ml olie

1 ui, fyn gekap

2 wortels, geskraap en in stukkies gesny

1 blik (410 g) gekapte tamaties

45 ml tamatiepasta

3 liter vleisaftreksel

2 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny

1 blik (420 g) botterbone, gedreineer

1 groot pak (600 g) babaspinasie, grof gekap

Geur die vleis met sout en peper. Verhit die olie in ’n groot sopkastrol en braai die vleis in twee lotte daarin bruin. Skep die vleis uit en hou eenkant. Braai die uie in dieselfde kastrol tot sag, maar nie bruin nie. Skep die vleis terug in die kastrol en voeg die wortels, tamaties, tamatiepasta en aftreksel by.

Verhit tot kookpunt en laat prut die vleis vir ongeveer 2 uur tot die vleis sag is en van die bene begin afval. Voeg die aartappels en bone by en prut verder tot die aartappels baie sag is. Geur die sop na smaak met sout en peper en roer die spinasie by. Laat deurkook en sit voor.

Lewer 8 porsies.