375 ml rosyntjies

Louwarm water om te bedek

7 x 250 ml (7 k) witbroodmeel

500 ml (2 k) koekmeel

10 g kitsgis

250 ml suiker

’n Knippie elk neutmuskaat en fyn kaneel

10 ml sout

500 ml louwarm water

60 ml botter, gesmelt

Smeer ’n groot broodpan goed met botter. Bedek die rosyntjies met louwarm water om dit ’n bietjie te laat uitswel. Meng die twee soorte meel met die kitsgis, suiker, speserye en sout. Voeg die 500 ml louwarm water geleidelik by en meng goed. Voeg die gesmelte botter by en knie tot die deeg elasties is.

Dreineer die rosyntjies en knie dit by die brood in. Sit die deeg in ’n mengbak wat goed met botter gesmeer is. Bedek losweg. Laat rys die deeg tot verdubbel in volume en knie dit af. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot ongeveer 3 cm dik. Smeer die oppervlak met ’n lagie van die speserybotter (sien die vorige resep).

Rol die deeg op en sit dit in die gesmeerde pan. Laat weer rys tot die pan vol is. Voorverhit die oond tot 190 °C. Bak die brood vir 45-60 minute, of tot deurgaar. Bedien dit louwarm met botter. Lewer 1 groot brood.