- 375 ml lensies

- 45 ml olie

- 1 groot ui, fyn gekap

- 5 ml garam masala

- 10 ml kerriepoeier

- 3 ml borrie

- 1 middelslag-botterskorsie, geskil, ontpit en in blokkies gesny

- Water

- 5 ml botter

- Skeut melk of room

- Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Bolaag

- 3 eiers

- 500 ml melk

- Lourier- of kerrieblare

Voorverhit die oond tot 180 °C. Kook die lensies in ’n pot water (sonder sout) tot dit baie sag is. Terwyl die lensies kook, verhit die olie en braai die ui en speserye stadig daarin tot die ui sag is. Voeg die botterskorsieblokkies by en braai verder vir ongeveer 2 minute. Bedek met net genoeg water om die botterskorsie toe te maak en verhit tot kookpunt. Prut tot die botterskorsie sag is en daar ongeveer 100 ml vloeistof saam met dit in die kastrol oorbly (as die vloeistof te min word gedurende die kookproses, voeg nog ’n bietjie water by). Druk die botterskorsie goed fyn met botter en ’n bietjie melk of room tot glad. Geur met sout en peper na smaak. Wanneer die lensies gaar is, dreineer en geur ook met ’n bietjie sout.

Skep lagies van die botterskorsiepuree en lensies in ’n gesmeerde oondbak. Hou ongeveer 100 ml van die botterskorsiemengsel terug om in die bolaag te gebruik. Voeg die eiers en melk by die orige botterskorsiemengsel en klits goed, tot glad. Giet versigtig oor die bobotie en druk lourier- of kerrieblare bo-op in. Bak vir 30-40 minute tot die bolaag goudbruin en ferm is. Sit voor met rys of poppadoms en ’n tamatieslaai met vars koljander- of roketblare.

Lewer 6-8 porsies.

Kombuiswenk

Maak seker die lensies is goed saggekook sodat dit ’n romerige tekstuur het en jy maklik die bobotie in porsies sal kan sny.