Beslag

500 ml koekmeel

10 ml bakpoeier

100 ml strooisuiker

250 ml melk

10 ml vanieljegeursel

2 ekstragroot eiers

100 ml gesmelte botter

Heuningstroop

100 ml botter

30 ml kookwater

100 ml heuning

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer die holtes van ’n standaardgrootte muffinpan met botter of spuit met kleefwerende kossproei. Sif die meel, bakpoeier en strooisuiker saam in ’n mengbak. In ’n aparte bak, klits die melk, vanieljegeursel, eiers en gesmelte botter saam en voeg by die droë bestanddele.

Meng liggies tot ’n gladde beslag vorm. Verdeel die beslag tussen die gesmeerde holtes en bak die koekies vir 10-15 minute tot gaar. Terwyl die koekies bak, smelt die botter, kookwater en heuning saam tot glad en prut vir ’n paar sekondes. Giet die kokende heuningstroop oor die koekies sodra dit uit die oond kom. Laat vir ’n rukkie in die panne afkoel en haal versigtig uit. Sit louwarm voor met goeie vanieljeroomys. Lewer 12 koekies.