In my geestesoog sien ek nou nog die vroue in die pakhuis wat blitsig met geoefende hande die appelkose oopsny, ontpit en netjies in rye op die houtstellasies pak om op die droogbaan in die son droog te word. Ek ruik die soet geur van varsgekookte appelkooskonfyt in ons plaaskombuis en sien hoe my ma ons spens se rakke volpak met flesse van haar tuisgemaakte appelkooskonfyt en -blatjang.

Hierdie resep is een waarmee ek grootgeword het – dit sal altyd soos huis proe.

2 uie, baie fyn gekap

2 rooi appels, geskil, ontpit en fyngekap (opsioneel)

1 kg (ongeveer 26) ryp appelkose, ontpit en grofgekap

1 duimgrootte stuk vars gemmer, geskil en grofgerasper

500 ml witsuiker

250 ml appelasyn

5 ml sout

Speserysakkie

15 ml piekelspeserye

5 ml wit mosterdsaad

4 lourierblare

10 ml droë brandrissievlokkies

10 heel swartpeperkorrels

3 kruienaeltjies

3 wonderpeperkorrels

5 ml komynsaad

Sit die uie, appels (indien gebruik), appelkose, gemmer, suiker, asyn en sout in ’n groot kastrol.

Bind al die speserye in ’n stukkie kaasdoek of ongebleikte linne toe. Maak dit stewig met kombuistou vas en sit dit ook in die kastrol.

Verhit stadig oor lae hitte, terwyl aanhoudend geroer word – tot die suiker opgelos is. Verhit verder tot kookpunt en prut ongeveer 20-30 minute lank tot die vrugte sag en die blatjang so dik is soos jy daarvan hou.

Skep in gesteriliseerde flesse (of gebruik ’n tregter en giet in bottels) en verseël met gesteriliseerde deksels.

Bêre die blatjang op ’n koel, donker plek.

Lewer ongeveer 850 ml blatjang.