Hierdie gewilde Tanzaniese wegneemete herinner aan ’n Spaanse frittata. Jy kan enige speserye en groente in jou kas benut.

Martelize gebruik mielies, maar gekapte soetrissies of ertjies smaak ook lekker.

  • 1 mediumgroot aartappel
  • Olie vir diepbraai
  • 15 ml botter
  • 2 groot eiers
  • 10 ml paprika
  • Sout en peper na smaak
  • 15 ml mieliepitte
  • Hand vol vars koljander of pietersielie, gekap

Skil en sny die aartappel in skyfies, soos vir slaptjips, en diepbraai in olie tot goudbruin. Haal uit en dreineer. Verhit die botter in ’n pan. Klits die eiers saam met die paprika, sout en peper. Plaas die skyfies in die pan met botter en versprei.

Giet die eiermengsel oor die skyfies en sprinkel die mieliepitte en gekapte kruie oor. Roer hier en daar liggies met ’n spaan soos jy met ’n omelet sal maak. Braai vir 1-2 minute. Indien jy van gaarder eiers hou, draai om en braai vir nog 1 minuut.

Lewer 1 porsie