Witsjokolade-en- karamelyskaskoek

Ek hou daarvan om snye rolkoek as kors vir sommige yskastertvulsels te gebruik. Die kors is dan minder vetterig, raak nie hard in die yskas nie en krummel ook nie as jy die tert sny nie. Die delikate maaskaasvulsel van hierdie koek pas vir my beter by ’n koekkors as ’n krummelkors.

1 groot rolkoek, in dun skywe gesny, of 8 klein karamelrolkoekies, in skywe gesny

1 blik (360 g) karamelkondensmelk

300 g witsjokolade, fyngekap

200 ml room

3 bakkies (250 g elk) gladde maaskaas

5 ml vanieljegeursel

60 ml suurlemoensap

20 ml gelatien

60 ml koue water

Witsjokoladekrulle, om af te rond (opsioneel)

Bespuit ’n losboomkoekpan van 26 cm met kleefwerende kossproei en voer met kleefplastiek uit. Spuit weer liggies. Voer die boom en kante van die pan met dun snye rolkoek uit en vul enige oop stukkies (veral op die boom van die pan) met stukkies koek. Klits die karamelkondensmelk tot glad. Smeer die helfte daarvan oor die rolkoek op die boom en teen die kante van die koekpan. Hou die res eenkant.

Smelt die witsjokolade en room saam oor lae hitte tot glad. In ’n ander bak, klits die maaskaas, vanieljegeursel en suurlemoensap tot glad. Sprinkel die gelatien oor die koue water in ’n klein bakkie en laat staan vir 5 minute. Smelt in die mikrogolf tot helder en deurskynend (moenie kook nie). Voeg die gelatienmengsel by die maaskaasmengsel en roer die witsjoko- lademengsel daarby. Meng goed.

Skep die helfte van die mengsel in die voorbereide tertkors. Voeg die orige karamelkondensmelk by die res van die maaskaasmengsel en klits deur. Skep lepels vol van die karamel-maaskaasmengsel op die wit vulsel en gebruik ’n lepel om die twee kleure liggies deur te roer sodat ’n marmer-effek verkry word. Verkoel oornag. Rond af met witsjokoladekrulle (indien verkies).

Lewer 14-16 porsies.