Hierdie resep maak dit maklik omdat daar ’n redelike hoeveelheid water by die suiker gevoeg word, en jy dus nie bang hoef te wees dat die suiker sal brand of kristalliseer nie. Dit is my staatmakerresep vir karamelsous en kan nie misluk nie mits jy seker maak dat die suiker alles opgelos is voor die sous kookpunt bereik.

  • 125 ml water
  • 310 ml witsuiker
  • 2 ml sout
  • 1 vanieljepeul, in die lengte gehalveer en saadjies uitgeskraap
  • 250 ml room

Sit die water, suiker, sout en vanieljesaadjies (en peul) in ’n middelslag-kastrol en verhit oor lae hitte, terwyl aanhoudend geroer word tot al die suiker opgelos is en die stroop helder is. Verhit tot kookpunt en laat kook die stroop, sonder om te roer, tot ’n diep karamelkleur. (Jy kan die kastrol liggies skud, of kantel en draai om die karamel eweredig te laat verkleur, maar moenie roer nie.)

Verwyder die kastrol onmiddellik van die hitte en voeg die room by, terwyl geklits word met ’n draadklitser. (Wees versigtig – die sous sal vinnig opborrel.) Giet die karamelsous in ’n gesteriliseerde houer, bedek en verkoel tot benodig. Onthou dat die karamel dik sal wees as dit uit die yskas kom, maar ’n paar sekondes in die mikrogolf sal die sous weer loperig maak.

Lewer ongeveer 350 ml sous

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.