Kors

1 pakkie (200 g) sjokoladekoekies (ek het Romany Creams gebruik)

100 ml gesmelte botter

Vulsel

1 liter melk

30 ml botter

250 ml suiker

60 ml mielieblom

30 ml vlapoeier

20 ml kakao

2 eiers, geklits

5 ml vanieljegeursel

2 plakke (80 g elk) donkersjokolade, fyngekap

Kakao en vars kruisement, om af te rond

Krummel die koekies fyn (gebruik ’n voedselverwerker as jy een het) en meng dit met die gesmelte botter. Druk die krummels op die boom en teen die kante van ’n gesmeerde tertbord van 24 cm vas. Verkoel.

Verhit 750 ml van die melk saam met die botter tot net onder kookpunt. Terwyl die melk warm word, meng die orige 250 ml melk saam met die suiker, mielieblom, vlapoeier, kakao en eiers in ’n aparte bak tot goed gemeng.

Giet die helfte van die warm melk by die mielieblommengsel en roer goed tot die suiker opgelos is. Giet alles terug by die res van die warm melk in die kastrol. Verhit stadig, oor lae hitte, terwyl jy die vla met ’n draadklitser roer, tot kookpunt.

Prut liggies, terwyl steeds aanhoudend geroer word, tot verdik en gaar. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel en fyngekapte sjokolade by. Hou aan roer tot die sjokolade alles gesmelt en die vla glad is.

Giet die vla in die voorbereide tertkors en laat staan tot ferm. Bedek en verkoel tot benodig.

Sif ’n bietjie kakao oor en versier met vars kruisement net voor jy die tert voorsit.

Lewer 8-10 porsies