1 kg varkneksteaks

Sout en vars gemaalde swartpeper

Olie, vir braai

Water

250 ml sjerrie

Paar takkies vars pietersielie

30 ml botter

3 uie, grof gekap

20-30 ml koekmeel

125 ml volroommelk of room

15 ml aangemaakte mosterd

1 rol (400 g) skilferkorsdeeg

1 eier, geklits

Geur die vleis met sout en peper en braai in ’n bietjie olie tot bruin. Bedek die vleis met genoeg water en voeg 250 ml sjerrie en pietersielie by. Verhit tot kookpunt, bedek, en prut tot die vleis van die bene af val. (Vul die water gedurende die kookproses aan soos dit nodig word. Daar moet deurgaans minstens 375 ml vloeistof in die pot wees.)

Skep die vleis uit en gooi die pietersielietakkies weg. Pluis die vleis grof. Smelt die botter in ’n pan en braai die uie daarin tot sag. Sprinkel die koekmeel oor en verhit tot dit borrel. Voeg die melk of room by en verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Voeg die sowat 375 ml kookvloeistof (waarin die vleis gaargeword het) by en prut tot die sous effens verdik is.

Roer die mosterd by en geur na smaak met sout, peper en sjerrrie. Voeg die vleis by die sous en kook dit deur. Skep in ’n pasteibak en laat afkoel.

Voorverhit die oond tot 190°C. Rol die skilferkorsdeeg uit en bedek die vulsel daarmee. Gebruik orige stukkies deeg om die pastei mee te versier. Verf die deeg met geklitste eier en bak die pastei vir 30 minute tot goudbruin en warm. Lewer 6-8 porsies.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.