2 pakke (250 g elk) repiespek

Vulsel

2 uie, baie fyn gekap

45 ml olyfolie

1 kg varkmaalvleis

7 ml sout

5 ml varsgemaalde swartpeper

5 ml fyngekapte tiemieblaartjies

5 ml fyngekapte salieblaartjies

30 ml fyngekapte pietersielie

10 ingelegde pikantrissies, goed gedreineer en dungesny

1 ekstragroot eier, geklits

Voorverhit die oond tot 160 °C en smeer ’n middelslag-broodpan liggies met olie. Voer die pan met repies spek uit en hou die res van die spek eenkant. Braai die uie in die olyfolie tot sag. Terwyl die uie braai, snipper die orige spek baie fyn en voeg dit by die uie. Braai verder tot die spek gaar is.

Meng die gebraaide uie-en-spekmengsel met die maalvleis in ’n mengbak en voeg die res van die bestanddele by. Meng goed en skep die vulsel in die uitgevoerde broodpan. Smeer gelyk en bedek die broodpan met ’n dubbele laag foelie. Sit die broodpan met die terrien in ’n groter oondbak en giet kookwater in die oondbak tot halfpad teen die kant van die broodpan.

Sit in die oond en bak vir 1½ uur tot die terrien ferm is. Haal die oondbak uit die oond en lig die broodpan uit die water. Gooi die kookwater uit en sit die broodpan met die terrien terug in die leë oondbak. Sit ’n broodplank op die foelie neer en sit ’n swaar voorwerp (soos ’n gietysterpot of baksteen) bo-op die broodplank.

Die gewig kompakteer die vleis sodat die afgekoelde terrien maklik in skywe gesny kan word. Laat die terrien so afkoel tot kamertemperatuur. Verkoel oornag en keer uit die pan. Sit voor met heelkorrelmosterd, piekels, saggekookte eiers, slaai en brood. Lewer 10 porsies.