¦ 2 kg beesskenkel

¦ 2 uie, gekap

¦ 4-6 knoffelhuisies, fyn gedruk

¦ 5 ml gekapte, vars brandrissie

¦ Olyfolie

¦ 500 ml water

¦ 100 ml tamatiepasta

¦ 250 ml karringmelk

¦ 250 ml rooiwyn

¦ 1 blik (410 g) gekapte tamaties

¦ 1 1/2 beesvleisaftrekselblokkies, gekrummel

¦ 1 lourierblaar

¦ Sout en peper na smaak

¦ Halwe pakkie beesstertsoppoeier

Sit die skenkelvleis in ’n oondbak en verbruin in ’n warm oond. Skep die vleis in ’n groot, oondvaste swaarboomkastrol uit en hou eenkant. Gooi die uie, knoffel en brandrissie saam met die vleissouse wat in die oondbak agtergebly het, en ’n bietjie olyfolie in ’n pan.

Braai tot sag en voeg alles by die vleis. Voeg die water, tamatiepasta, karringmelk, rooiwyn, ingemaakte tamaties, aftrekselblokkies en lourierblaar by. Geur met sout en peper. Verhit tot kookpunt en bedek die kastrol.

Verlaag die hitte en prut vir ongeveer 4-5 uur tot die vleis só sag is dat dit van die bene afval. Skep die bene uit en verdik die osso buco met ’n bietjie beesstertsoppoeier (net as dit nodig is). Sit voor op polenta, kapokaartappels, rys of koeskoes. Lewer 6 porsies.

Arlington

Brian Angus van die plaas Woodview buite Arlington is die grootste Wagyuboer in Afrika. Wat Wagyubeesvleis so besonders maak, is die tussenspiervet wat soos dun, wit aartjies deur die vleis versprei is. Dit staan bekend as marmering en verseker sagte, sappige vleis propvol geur. “Dis die kaviaar van beesvleis,” vertel Brian.

Brian se vrou, Maria, is ’n uitsonderlike kok. Sy is van Amerikaans-Italiaanse afkoms en is veral lief om geregte, soos carpaccio en osso buco, met Wagyubeesvleis te maak.