Beslag

1 pakkie (200 g) Mariebeskuitjies, baie goed fyngemaak in voedselverwerker

125 ml amandelmeel

15 ml elk fyn kaneel en kakao

10 ml bakpoeier

230 g sagte botter

250ml geelsuiker

5 ekstragroot eiers, geskei

10 ml vanieljegeursel

Versiersel

1 pakkie (90 g) vanieljekitspoedingpoeier

250ml elk melk en langleweroom

Vars grenadellapulp, om af te rond (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer vier bakplate met ’n dubbele vel bakpapier uit en trek ’n sirkel van 18 cm op elke stuk papier.

Beslag: Meng die droë bestanddele in ’n groot bak. Verroom die botter en suiker goed en klits die eiergele daarby. Voeg die bottermengsel by die droë bestanddele en meng goed.

Klits die eierwitte styf en vou dit versigtig by die beslag in. Smeer die beslag op die sirkels (stop ’n entjie van die sirkels se kant, aangesien die beslag effens sal sprei as dit bak). Bak vir 15 minute. (Hou fyn dop dat die koeksirkels nie brand nie.) Haal uit die oond sodra dit gaar is en laat die koeksirkels op die bakpapier afkoel tot kamertemperatuur. Sny die sirkels ewe groot sodra dit goed afgekoel is.

Versiersel: Klits die kitspoedingpoeier en melk goed saam en laat dit effens stol. Klits die room styf en voeg ditbydiepoedingmengsel.Klitssaam tot goed gemeng. Smeer of spuit die versiersel op elke laag. Stapel die lae opmekaar en rond af met grenadellapulp.

Lewer 14-16 porsies.