250 ml koekmeel

250 ml mieliemeel of fyn polenta

5 ml sout

15 ml bakpoeier

15 ml suiker

1 x 410 g-blik geroomde suikermielies

2 eiers

125 ml melk

30 ml gesmelte botter

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n middelslagbroodpan goed. Voer uit met bakpapier en smeer weer. Meng die droë bestanddele saam in ’n bak en maak ’n holte in die middel. Klits die mielies, eiers, melk en gesmelte botter saam en voeg by die droë bestanddele.

Roer tot ’n stywe beslag vorm en skep in die voorbereide pan. Bak vir 50–60 minute tot deurgaar. Laat vir 10 minute in die pan afkoel en keer dan op ’n draadrak uit. Lewer 1 middelslagbrood (ongeveer 10 snye).