• 7 ml olie
  • 2 uie, dun gesny
  • 1 brandrissie, ontpit en fyn gekap
  • Halwe groen appel, ontkern, geskil en gerasper
  • 90 ml rooiwynasyn
  • 125 ml klam bruinsuiker
  • 1 kaneelstok
  • 125 ml water
  • Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • 2 rolle (400 g elk) blaardeeg
  • 2 (125 g elk) camembert-kase

Verhit die olie en braai die uie stadig daarin tot sag. (Sit die deksel op sodat die uie ’n bietjie kan sweet – dit laat dit vinniger sag word.) Voeg die brandrissie en appel by en braai verder vir sowat 2-3 minute tot die appel ook sag is. Voeg die res van die bestanddele by, buiten die sout en peper, en verhit tot kookpunt. Prut liggies, terwyl geroer word, tot die mengsel klewerig en byna soos konfyt begin lyk.

Verwyder van die hitte, haal die kaneelstok uit en geur na smaak met sout en peper. Laat afkoel tot kamertemperatuur. (Die resep lewer ongeveer 400 ml uiemarmelade. Bêre wat jy nie vir die burgers gebruik nie in ’n lugdigte houer in die yskas.)

Voorverhit die oond tot 220 °C.

Rol die blaardeeg op ’n meelbestrooide oppervlak oop en druk klein sirkels uit die deeg. Pak op bakplate wat met bakpapier uitgevoer is en bak vir ongeveer 7-10 minute of tot die deeg opgepof, goudbruin en gaar is.

Haal uit die oond en laat afkoel. Halveer die deegsirkel versigtig met ’n skerp messie en hou elke sirkel se bo- en onderkant bymekaar. Sny die kase in klein stukkies en sit ’n stukkie kaas op die onderkant van elke “burger”.

Skep ’n klein bietjie uiemarmelade op elke stukkie kaas en bedek met die bokant van die burger. Sit voor met yskoue, droë vonkelwyn.

Lewer 50 miniburgers

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.