Bak die koek betyds en voer dit ’n eetlepel of wat soetwyn elke week, vir ’n ryk, klam koek wat sommer lank sal vars bly. Dié resep kom van Allesverloren, die oudste wynplaas in die Swartland, wie se muskadel ekstra skop sal verleen.
  • 1 kg vrugtekoekmengsel
  • 240 g botter
  • 1 eetlepel gemaalde koffie
  • 1 eetlepel gemengde speserye
  • 400 ml water
  • 240 g suiker
  • 1 koppie gouestroop
  • 1 koppie Allesverloren Rooi Muskadel
  • 4 eiers
  • 4 eetlepels kakao
  • 300 g koekmeel
  • teelepel bakpoeier
  • teelepel koeksoda

Voorverhit die oond tot 140 °C. Voer twee koekpanne met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei. Voeg die vrugtekoekmengsel, botter, koffie, speserye, water, suiker, stroop en muskadel saam in ’n kastrol. Verhit tot kookpunt en laat dit vir 5 minute prut.

Verwyder van die hitte en laat afkoel tot kamertemperatuur. Klits die eiers met ’n elektriese klitser, voeg die vrugtekoekmengsel en die res van die droë bestanddele by en meng goed. Skep die beslag in die voorbereide koekpanne en bak vir 90 minute.

Die koek is gaar wanneer ’n toetspen skoon uitkom. Laat dit effens afkoel en sprinkel twee eetlepels rooi muskadel oor die koek voor jy dit heeltemal laat afkoel. Jy kan die koek een eetlepel muskadel per week voer. Vir 2 x 20 cm-koeke van sowat 5 cm hoog.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.