Jaco en Liezl is die sesde geslag wat op Weltevrede boer. “Dis ‘n groot voorreg om op ‘n plaas te bly met so ‘n ryk familiegeskiedenis. Ons kinders kry die geleentheid om ‘n sterk band met hulle ouma en oupa te vorm. Ek het dieselfde gehad met my grootouers,” gesels Liezl.

   

“Vyeboerdery het ‘n lang seisoen, mense is altyd verbaas as hulle dit hoor,” se Jaco. “Ons seisoen begin in September met groenvye (voorvye). En dan ons ander vye tot in Mei. In die winter fokus ons op uitbreidings, snoei ‘n bietjie en maak gereed vir oestyd – want as ons oes is daar min tyd vir enigiets anders.”

Prince Albert is ‘n dorp met ‘n sterk koskultuur en daar is heelwat uitstekende kokke. Mense ry van ver vir Weltevrede se vyeprodukte en vriende kan nie uitgepraat raak oor Liezl se heerlike kos nie.

Afgesien van vars vye word vye ook al vir generasies op Weltevrede gekook en die derde been van die besigheid is konfyt. Die konfyt is onder Liezl se bekwame hand uitgebrei is tot ‘n hele deli-reeks van vyeprodukte. Aanvanklik het alles in die kombuis gebeur, later het hulle nog ‘n vertrek aangebou en twee jaar terug het hulle ‘n volwaardige konfytfabriek naby die huis aangebou – sodat dit vir Liezl (wat ook twee klein kindertjies het) maklik is om ‘n oog te hou oor die proses.

 

Resep: Weltevrede se vyetert 

Kors

125 gram botter

375 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

250 ml strooisuiker

 

Vyevulsel

10 - 14 vars of gevriesde vye

5 ml kaneel

90 ml versiersuiker

 

Vlavulsel

250 ml room

2 eiergele

 

Voorverhit oond tot 180°C. Spuit ‘n middelslag losboomtertpan of 6-8 klein tertpannetjies met kleefwerende kossproei.

Kors: Smelt die botter. Meng die meel, bakpoeier en strooisuiker saam in ‘n groot mengbak. Maak ‘n holte in die meel en gooi die gesmelte botter by en meng deeglik, tot deeg vorm. Druk die kors in die gesmeerde tertpan of pannetjie vas, op die bodem en teen die kante.

Sny die vye in kwarte of agstes en rangskik dit in die tertkors. Meng die versiersuiker en kaneel en sif die mengsel oor die vye. Bak vir 15 minute. Haal uit die oond. Klits die room en eiergeel saam en giet versigtig oor die vye in die tertkors. Sit dit terug in die oond en bak vir nog 15 minute, of tot die vlavulsel gestol en goudbruin is. Laat afkoel en sit voor met dik room. Lewer 8 porsies (of 6-8 individuele tertjies).