Op ’n onlangs kosreis deur die Oos-Vrystaat op soek na stories vir die volgende uitgawe van Boerekos, het ons ’n boervrou ontmoet wat die lekkerste nastergalkonfyt kook.

Daar is nie nog ’n produk met dieselfde intense pers kleur as nastergalbessies nie. Nie beet nie, ook nie brame of bloubessies nie.

Die purper kleur van die konfyt is onmiskenbaar en die geur werk goed by gebak met sagte, melkerige of botterige smake; ook vanielje, kaneel en amandel.

Nastergalstroop

¦ 250 ml suiker

¦ 125 ml water

¦ 125 ml nastergalkonfyt

Beslag

¦ 4 ekstragroot eiers

¦ 250 ml suiker

¦ 5 ml vanieljegeursel

¦ 250 ml bruismeel

¦ 250 ml gemaalde amandels

¦ 150 g botter, gesmelt

Voorverhit die oond tot 160°C en smeer ’n losboompan van 23 cm. Voer die boom uit met twee lae bakpapier en smeer weer.

Sit die suiker, water en nastergalkonfyt in ’n klein kastrol en verhit, terwyl jy roer, tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en prut vir 5 minute. Giet deur ’n sif en hou die bessies wat in die sif agterbly, asook die stroop, eenkant.

Klits die eiers goed. Voeg die suiker en vanieljegeursel by en klits vir 8-10 minute, tot die mengsel dik en liggeel is. Sif die meel oor, sprinkel die amandels oor en drup die botter ook oor. Vou dit versigtig in tot goed gemeng.

Skep die nastergalbessies wat in die sif agtergebly het in die koekpan en versprei egalig. Drup ongeveer 30 ml van die stroop oor. Giet die beslag oor die bessies en bak die koek vir ongeveer 50-60 minute, tot deurgaar.

As die koek uit die oond kom, laat afkoel vir 5 minute, maak die klamp los en keer die koek om op ’n draadrak bo-oor ’n bakplaat. Haal die basis af en trek bakpapier versigtig van die bessies af. Skep die stroop oor die nastergal-lagie en laat goed intrek.

Sit voor teen kamertemperatuur. Lewer 12-14 porsies.

Kombuisenk

As jy nie nastergalkonfyt in die hande kan kry nie, vervang dit met bloubessiekonfyt.