Haar heerlike hoenderpasteiresep is van haar ouma Diets na haar ma, Dolla, oorgedra, vertel Nelmari Spilsbury.

Vulsel

¦ 1,2 kg hoenderstukke

¦ 7 heel kruienaeltjies

¦ 2 hoenderaftrekselblokkies

¦ 500 ml kookwater

¦ Sout en vars gemaalde swartpeper

¦ 1 ui, fyn gekap

¦ 125 g sampioene, fyn gesnipper

¦ 125 g gerookte ham, fyn gekap

¦ 15 ml olie of botter

¦ 250 ml room

¦ 125 g sampioensoppoeier

Deeg

¦ 1 rol (400 g) skilferkorsdeeg

¦ 1 eiergeel

¦ 45 ml melk

Sit die hoenderstukke, naeltjies, aftrekselblokkies, kookwater en sout en peper na smaak in ’n kastrol en verhit tot kookpunt.Kook tot die hoender só sag is dat dit van die bene begin afval. Verwyder die hoender uit die kastrol en laat afkoel.

Skep die kruienaeltjies uit die aftreksel waarin die hoender gekook is en sit die kastrol met aftreksel eenkant om ook effens af te koel. Haal die hoenderporsies se vel af en haal alle bene uit. Sny die hoender fyn en hou eenkant. Braai die ui, sampioene en ham in ’n bietjie olie of botter in ’n kastrol tot gaar.

Voeg die room, sampioensoppoeier en hoenderaftreksel (uit die kastrol) by en laat deurkook. Voeg die hoender by en skep die mengsel in ’n gesmeerde middelslag-oondbak. Laat dit nou heeltemal afkoel tot kamertemperatuur.

Voorverhit die oond tot 200°C. Rol die skilferkorsdeeg uit en bedek die vulsel daarmee. Klits die eiergeel en melk saam en verf die deeg daarmee. Bak die pastei vir ongeveer 25 minute tot goudbruin en deurwarm. Sit voor met slaai of rys en groente. Lewer 6-8 porsies.

Harrismith

Stewart Spilsbury het op hoërskool sommer in sy ouers se motorhuis op Harrismith met sowat 500 hoenders begin boer. Ná skool het hy die boerdery heeltyds aangepak en vandag verskaf hy sowat 50 000 lewende hoenders per week aan die Phuthaditjhaba-gemeenskap.

“Die hoenders is nie in hokkies nie en kan rondhardloop. Jy kan sommer die verskil proe, want ’n gelukkige dier lewer ’n lekker produk,” vertel sy vrou, Nelmari. Sy het ’n slag- en verwerkingskamer ingerig en sy slag sowat honderd hoenders per maand, wat sy in die omgewing verkoop.