1 pak (500 g) noedels van jou keuse

100 ml pikantrissies

2 wiele fetakaas

125 ml suurroom

Olyfolie

Suurlemoensap

Water

2 groot hande vol klam, dungesnyde beesbiltong

100 g geroosterde, gesoute kasjoeneute, grofgekap

45 ml vars, gekapte platblaarpietersielie

Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Kook die pasta in ’n groot kastrol vinnig kokende soutwater tot gaar, maar steeds ferm.

Terwyl die pasta kook, verwerk die helfte (50 ml) van die pikantrissies, 1 wiel fetakaas en die suurroom in ’n voedselverwerker tot glad. Voeg ’n bietjie olyfolie en suurlemoensap (en ’n klein bietjie water, indien nodig) by om die sous te verdun sodat dit soos dik jogurt is.

Dreineer die pasta en gooi dit terug in die kastrol. Voeg die pikantrissie-en-fetasous by die warm pasta en meng liggies deur. Laat afkoel.

Sny die res van die pikantrissies in dun repies en krummel die orige fetakaas grof. Voeg dit saam met die biltong, kasjoeneute en pietersielie by die pasta. Geur met sout en swartpeper en sit voor.

Lewer 6-8 porsies