Vulsel

5 ml botter

1 groot bruin sampioen, gesnipper

Hand vol babaspinasieblare

45 ml gekrummelde fetakaas

Omelet

5 ml olie

3 ekstragroot eiers, teen kamertemperatuur

45 ml water

Sout en vars gemaalde swartpeper

Smelt die botter in ’n pan en braai die sampioene daarin tot gaar. Voeg die spinasie by en roerbraai tot verlep. Verwyder van die hitte en hou eenkant. Verhit die olie in ’n swaarboompan van ongeveer 24 cm. Klits die eiers en water saam en geur met sout en peper.

Giet die eiermengsel in die warm pan. Verhit tot die mengsel begin stol. Gebruik dan ’n eierspaan om die kante van die omelet liggies na binne te druk. Daar waar jy die ferm eier weggedruk het, sal loperige eier inloop.

Herhaal die proses tot daar nie meer loperige eier bo-op die omelet lê nie en die onderkant van die omelet goudbruin is. Skep die sampioen-en-spinasiemengsel op die een helfte van die omelet en sprinkel die fetakaas oor.

Vou die ander helfte van die omelet bo-oor die vulsel en laat gly die omelet met behulp van ’n eierspaan uit die pan op ’n bord. Sit dadelik voor. Lewer 1 groot porsie.