Bottertoffie

125 g botter

125 ml donkerbruinsuiker

’n Paar druppels water

Beslag

100 g botter

125 ml ligbruinsuiker

2 ekstragroot eiers

410 ml koekmeel

5 ml kaneel

7 ml bakpoeier

2 ml koeksoda

140 ml karringmelk of dik, natuurlike jogurt

5 ml vanieljegeursel

4 piesangs

Voorverhit die oond tot 180 °C en bespuit die 12 holtes van ’n standaardmuffinpan met kleefwerende kossproei.

Bottertoffie: Verhit die botter, donkerbruinsuiker en ’n bietjie water stadig saam oor lae hitte, terwyl jy aanhoudend roer, tot die suiker gesmelt is. Prut vir 2 minute en verdeel die sous eweredig tussen die 12 holtes van die muffinpan.

Beslag: Verroom die botter en ligbruinsuiker goed tot romerig. Voeg die eiers by en klits goed. Sif die meel, kaneel, bakpoeier en koeksoda oor. Voeg die karringmelk of jogurt by, asook die vanieljegeursel, en meng goed.

Skil en snipper die piesangs. Verdeel die piesangskyfies tussen die muffinholtes met die bottertoffiesous. Skep ’n lepel van die beslag in elke panholte.

Bak vir ongeveer 20-25 minute of tot die koekies gaar is. (Steek ’n toetspen in die hoogste deel van die koekies. As dit skoon uitkom, is die beslag gaar.)

Sny die kante van die koekies versigtig met ’n mes van die panholtes los en sit dadelik ’n draadrak en bakplaat bo-op die muffinpan. Keer die pan om, sodat die koekies op die draadrak kan uitval en die bakplaat enige druppels toffiesous kan opvang. Sit louwarm voor.

Lewer 12 koekies