Beslag

500 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

5 ml koeksoda

5 ml kaneel

Knippie sout

500 ml suiker

310 ml olie

4 ekstragroot eiers, teen kamertemperatuur

10 ml vanieljegeursel

750 ml fyngerasperde wortels

300 g okkerneute, fyngekap

30 ml gemmerstukke in stroop, fyngekap

Versiersel

80 g sagte botter

250 ml versiersuiker

1 houer (230 g) roomkaas

45 ml esdoringstroop

Fyn kaneel en vars tuinrose, om af te rond

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer twee koekpanne van 20 cm elk met olie. Voer met bakpapier uit en smeer weer. Beslag: Meng die meel, bakpoeier, koeksoda, kaneel en sout in ’n groot bak. Klits die suiker, olie, eiers en vanieljegeursel in ’n ander mengbak baie goed saam tot lig en donsig en voeg dit by die droë bestanddele.

Voeg die wortels, okkerneute en gemmerstukkies by en meng goed. Verdeel die beslag tussen die panne en bak vir 45-60 minute, tot die koek deurgaar is en ’n toetspen skoon uit die hoogste deel van die koek kom. Laat die koeke vir 10 minute in die panne afkoel en keer dan uit op ’n draadrak om verder af te koel tot kamertemperatuur.

Versiersel: Verroom die botter en versiersuiker goed saam. Voeg die roomkaas en esdoringstroop by en klits deur. Verkoel vir minstens 3 uur voor die koek versier word. Sif fyn kaneel oor net voor die koek voorgesit word.

Lewer 1 groot koek (16 porsies).

Die geheim van hierdie heerlike koek is die klitswerk. Maak seker jy klits die eiermengsel baie goed en lank genoeg sodat die suiker kan oplos. Vir roomkaasversiersel is dit altyd ’n goeie idee om die roomkaas eers glad te klits voor dit by die geroomde bottermengsel gevoeg word, anders kan daar maklik klein roomkaasklontjies in die versiersel wees.