Kors

- 200 g Tennisbeskuitjies of gemmerkoekies, fyngekrummel in ’n voedselverwerker

- 100 ml gesmelte botter

- 3 ml elk fyn kaneel en fyn gemmer

Vulsel

- 1 houer (230 g) roomkaas, teen kamertemperatuur

- 125 ml room, verhit tot louwarm

- 80 ml gouestroop

- 200 g witsjokolade, gesmelt

- 15 ml gelatien

- 30 ml koue water

- 100 g baie fyn gerasperde wortel

- 2 ml elk fyn kaneel, fyn gemmer en neutmuskaat

- 250 ml okkerneute of pekanneute, fyngekap

Smeer ’n losboomkoekpan van 24 cm met botter.

Kors: Maak ’n kors met die koekiekrummels, gesmelte botter en speserye, en druk dit stewig en egalig op die boom van die pan vas. Verkoel tot benodig.

Vulsel: Klits die roomkaas, room, gouestroop en gesmelte sjokolade saam tot goed gemeng.

Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan vir 5 minute om te spons.

Smelt die gesponste gelatien deur dit vir ’n paar sekondes in die mikrogolf te verhit tot helder en loperig, maar wees versigtig dat die mengsel nie kook nie.

Voeg die gelatien by die roomkaasmengsel en meng goed.

Druk die fyngerasperde wortel styf tussen jou hande om van alle vog ontslae te raak en voeg dit saam met die speserye by die roomkaasmengsel.

Skep 125 ml van die kaaskoekmengsel uit in ’n afsonderlike bakkie. Skep die res van die mengsel op die kors.

Rooster die neute in ’n droë pan tot goudbruin.

Voeg dit by die 125 ml kaaskoekmengsel wat jy eenkant gehou het en meng goed. (Die hitte van die neute sal die kaaskoekmengsel effens smelt en dit dunner maak as die res van die vulsel.)

Skep die neutmengsel bo-op die kaaskoekmengsel en smeer gelyk. Verkoel oornag. Sny en sit voor.

Lewer 16 porsies